JAARVERSLAG ARGIEF

Die JAARVERSLAG van 2011 kan hier afgelaai word.

OMSENDBRIEF ARGIEF

Die Wildsfeesbrief is hier beskikbaar

U rekenaar benodig sekere sagteware wat PDF leërs kan lees,
u kan dit gratis aflaai van
www.adobe.com

INFO PIONIER ARGIEF

NUUS ARGIEF

Herald 28 November 2011-11-28

 Pionier se leerlingleiers wil berge versit.

 Prefektekamp:

 Die afgelope naweek het die leerlingbestuur en die koshuisprefekte ‘n kamp by Pieta en Marie Fourie se plaas te Bloedrivierspoort gehad.

 Die doel van die kamp was ‘n beplanningsessie vir die jaar 2012 en ook om mekaar beter te leer ken in ‘n informele situasie.  Vrydag het die leerlinge reeds die eerste hendernis van ‘n reeks strawwe sessies aangepak.  Daar is altyd ook tyd vir ontspanning en heerlike gesamentlike sang.  Verdere aktiwiteite het ingesluit: bergklim, swem en talle speletjies.  Om die braaivleisvure is interessante stories vertel.

 Van die begin af was dit duidelik dat daar ‘n tasbare samehorigheid en geestelike gevoel geheers het. Koshuis- sowel as skoolsake was op die agenda.

 Ons is weereens baie opgewonde oor die uitdagings wat die nuwe jaar vir hierdie besonderse groep inhou en die manier wat hulle elke hindernis gaan aanpak.

 Liefdadigheidsprojek:

 Maretha Peyper, mej. Pionier 2011, het haar T-hemp vir Jesus- projek afgesluit met die oorhandiging van die klere aan die Christelike maatskaplike dienste van Vryheid.  Baie geluk, Maretha!

Herald 21 November 2011

 Marlize, landswye wenner, motorkompetisie!

 Met die jaar wat einde se kant toe staan, is die begroting van 2012 goedgekeur. Die nuwe jaarlikse skoolfonds is R6500 terwyl die koshuisgelde R10 700 per jaar beloop.  Vir al die geleenthede, kwaliteit onderrig en prag fasiliteite bly Pionier ʼn billike keuse vir almal.

 Score-a-car:

Marlize van den Heever is as die algehele, landswye wenner van die motorkompetisie ten bate van St. Martin’s kinderhuise bekroon omdat sy die meeste boekies verkoop het.  Sy het ʼn totaal van 47 boekies verkoop. Haar pryse sluit ʼn skootrekenaar, selfoon, ipod, R5000 kontant, R5000 Edgars geskenkbewys en ʼn Playstation 3 in.

 Belydenis van geloof:

Graag wens ons die leerlinge wat by die Weskerk belydenis van geloof afgelê het, geluk.  Sterkte met die pad vorentoe, saam groei ons in geloof.

 Prefekte:

Die prefekte gaan die naweek op ʼn leierskamp na Pieta en Marie Fourie se plaas om die nodige beplanning vir die nuwe jaar te doen.  5 Desember woon die leiers die ATKV jeugleierssimposium by Buffelspoort by.  Ons glo dat dit ‘n waardevolle leerskool sal wees.  Ons sien uit na volgende jaar se positiewe insette in Pionier.

 Biokinitici:

Elke leerling het ‘n oefenprogram ontvang vir die vakansie.  Die leerlinge gaan weer aan die begin van die 2012 getoets word om die verbetering in resultate waar te neem.  Volgende jaar se sportseisoen behoort baie suksesvol te wees met die waardevolle insette van die biokinetici.

Herald 31 Oktober 2011

 PHS: Biokinetici doen baanbrekerwerk by Pionier

 Die hoogtepunt van die akademiese jaar het 25 Oktober 2011 plaasgevind met die jaarlikse akademiese prysuitdelingsfunksie.  Graag wens ons elke leerling wat ‘n prys ontvang het geluk.  Hierdie pryse getuig van harde werk en deursettingsvermoë.

 Owen en Maryna van Niekerk bied 4 November  ʼn atletiek afrigtingskliniek aan.  Saam het hierdie twee persone meer as 600 springbokatlete opgelewer.

 Pionier is trots en opgewonde om te berig dat die dienste van Dr. Karien Gouws en Mej. Suné Gouws van hierdie week af ingewin gaan word.  Hierdie twee biokinetikuste gaan waardevolle insette by die skool lewer deur sportspanne en individue te ondersteun met oefenprogramme, diëte en rehabilitasie van beserings.  Ons sien uit om positiewe ressultate in elke Pionier te sien!

 Hoofprefekte van 2012:

By die koshuis is Joné Vreken as onderhoofmeisie aangewys met Dian Boshoff as onderhoofseun.  Maretha Peyper is hoofdogter by die koshuis en Nico-Jan Chowles die hoofseun.  By die skool is Anneke Smith die onderhoofdogter en Nico-Jan Chowles die onderhoofseun. Die presidente is Joné Vreken en Dian Boshoff.   Baie geluk en sterkte vir die uitdagende jaar wat voorlê.

 Swem:

JJ van der Hoogen het die afgelope naweek Noord-natal by ‘n interprovinsiale swemgala verteenwoordig.  JJ het onderskeidelik ‘n derde-, vierde- en vyfdeplek behaal.

 Krieket:

Die meisiespan het teen ‘n ervare span van Ferrum gespeel.  Pionier word almal vir 67 uitgehaal.  Marelie Lens het 15 lopies aangesteken.  Ferrum behaal die teiken van 70 gemaklik met die verlies van geen paaltjies.  Pionier verloor dus met 10 paaltjies.

 ATKV-jeugtak:

Die bestuur van 2012 is aangewys.  CW Smith is die voorsitter.  Marcelle Meyer die ondervoorsitter, Anneke Smith die tesourier, Bianca Marais die sekretaresse en addisionele lede is Annika Bousema, Maryke Fourie en Mariza van Heerden.

 Graag herinner ons u aan die algemene jaarvergadering wat 14 November 2011 om 18:00 by die Losie plaasvind.

Sterkte aan die 7’s-seuns wat Vrydag na Rustenburg vertrek om aan die kampioen ban kampioene toernooi te gaan deelneem.  Ons hoop hierdie jong spannetjie sorg vir baie opwinding!

Herald 24 Oktober 2011

PHS: Penny Heyns raak Pioniers se harte.

Sport- en Kultuur toekenningsaand:
Die jaarlikse spoggeleentheid waarna ieder en elk uitsien, het Dinsdag 18 Oktober, plaasgevind.  Pionier was so gelukkig om vir Penny Heyns, top swemmer , te verwelkom.  Sy het ʼn pragtige, inspirerende boodskap gelewer en ons glo dat elke Pionier hul talente ten volle sal ontwikkel na so ʼn passievolle getuienis.   Graag bedank Pionier vir Mc Carthy Inyanga vir hul borgskap van hierdie uithaler geleentheid. 
Die sportdogter van die jaar is Simoné Meyer.  Sy het ook die beste sportprestasie van 2011 ontvang.  Die sportseun van 2011 is JJ van den Hoogen wat ʼn veelsydige sportman op die tennisbane, krieket-,rugby- en atletiekvelde en in die swembad is.  Corlea Kloppers is as die kultuurpersoonlikheid van 2011 aangewys.  Baie geluk aan hierdie leerlinge, dit is sowaar prestasies om op trots te wees!  Mnr Koch het ʼn baie spesiale toekenning ontvang vir al die waardevolle jare diens op die sportveld, Mnr. se plekkie gaan leeg wees by Pionier.

Krieket:
Pionier neem die afgelope naweek deel aan krieket teen Ladysmith.  Vrydagmiddag reken Pionier met Ladysmith af deur met 61 lopies die wedstryd te beklink.  Michael Hayes het 46 lopies aangeteken.  Llewllyn Schwab neem 4 paaltjies vir 19.  Geluk!  Die eerstespan speel Saterdag en word vir 140 lopies uitgeboul.  Matthew Stride teken 49 lopies aan.  Matthew het 4 paaltjies vir 10 lopies in 7 beurte geneem, dis sowaar ʼn prestasie.  Ongelukkig verloor Pionier met 1 paaltjie.

Uitruilstudente:
Graag sê ons geluk aan Moya Kriel wat tydens Junie/Julie na Duitsland was en ook aan Maryke Fourie wat die Desember vakansie na Duitsland gaan reis as uitruilstudent.

Landsdiensbestuur:
Samantha Dippenaar word as voorsitter vir 2012 aangewys terwyl Gert Nel as onder-voorsitter en Bianca Marais as die sekretaresse aangewys word. 

Baie sterkte aan die matrieks wat ten tye van perse gaan, met hul Matriekeksamen begin het, julle is in ons elkeen se gedagtes.  Dankie vir al die gebede vir Roedie de Wet en Neels Mostert, dit word opreg waardeer.  Geluk aan die groot groep leerlinge wat Sondag Belydenis van Geloof by die Suid-Oos gemeente afgelê het, mag julle geestelik groei saam met ons hemelse Vader.

Program van die week:
25 Okt Akademiese toekenningsaand
26 Okt ATKV sokkie
Graag herinner ons ouers aan die algemene jaarvergadering wat Maandag 14 November plaasvind.


Herald 17 Oktober 2011

 Sterkte, Matriekklas van 2011!

 Vrydag 14 Oktober het Pionier finaal van die Matrieks van 2011 afskeid geneem  met ‘n gepaste saalbyeenkoms en kerkdiens.  Baie sterkte vir die eindeksamen, ons  vertrou dat dit ‘n suksesvolle afsluiting tot ‘n skoolloopbaan by Pionier sal wees.

 Rugby:

Lungisa Mlaba het teruggekeer van Skotland waar hy vir die VKB-plattelande span gespeel het.  Hulle het al die wedstryde gewen en Lungisa was vir twee wedstryde as die kaptein aangewys.  Geluk, Lungisa!

 Tennis:

Anri van Rooyen, Rhyll Boshoff en Keagan Naudé het aan die Noord-Natal tennis te Newcastle deelgeneem.  Die wedstryde was goeie blootstelling vir die jong spelers.  Anri en Rhyll wen hul wedstryde terwyl Keagan syne verloor het.

Krieket:

Pionier se o/15-span neem Saterdag tuis deel aan ‘n bepaling teen Ferrum.  Ferrum kolf eerste en word vir  167 uitgehaal.  Rudi Doubell neem 5 paaltjies vir 24 en Keagan Naude vat 4 paaltjies vir 33.  Pionier word uitgeboul vir 129 en verloor dus met 38 lopies.

 Gholf:

Combrinck Smit word as Natal se o/19-kaptein aangewys.  Een van die dae slaan jy nes mnr. Koch  ook ‘n ‘hole-in-one’!

 Atletiek:

Bea-Marie Schutte, Joanette Badenhorst, Simone Borman en Anneri Lens neem aan ‘n ASA-byeenkoms te Durban deel. Bea-Marie behaal twee eerste plekke in die 100m en 200m en ‘n tweede plek in die 300m hekkies.  Anneri behaal ‘n tweede plek in die diskus.  Simone kom 10de in die 100m en 12de in die 200m. Joanette behaal ‘n 5de plek in die 800m en ‘n 8ste plek in die 1500m.

 Akademiese top-10:

Die nommer een van elke graad is as volg: Gr 8: Nicole Pelser, Gr 9: Carike Odendaal, Gr 10: Ashley Naude, Gr 11: Sanri van Zyl en Gr12: Melyssa van Heerden. Geluk!

 Lief en Leed:

Sterkte vir Roedie de Wet wat ‘n operasie die week ondergaan.  Jy is in ons elkeen se gebede.  Welkom aan Me. Ronel Mortlock wat as sekretaresse by ons aangesluit het.  Ons vertrou u gaan baie gelukkig wees by Pionier.  Sterkte aan al die studente en personeellede wat eksamen skryf, flink dink!

 Program van die week:

Dinsdag 18 November: Sport- en Kultuur toekennings

Herald 10 Oktober 2011
 

Die vakansie het skaars begin en dis klaar op sy rug! Pioniers, maak reg,’ n bedrywige kwartaal lê en wag, voor ons ons oë kan uitvee, is die eindjaar eksamen met ons!

 Atletiek:

Strawwe kompetisie het op die atlete by die jeugspele in Polokwane gewag.  Tog het elke Pionier-atleet hul beste gelewer. Anneke Smith behaal ‘n 6de plek in die 1500m, Briania Doust behaal ook ‘n 6de plek in die hoogspring terwyl Danell Nortje 7de in haar 400m hekkies uitdun gekom het.  Bea-Marie Schutte het ‘n puik prestasie gelewer deur eerste in die 100m-hekkies te kom.  Haar tyd (14:49)was beter as die kwalifiserende tyd vir die SA’s.  Geluk, Bea-Marie, jy is Pionier se eie Hosein Bolt!

 Skyfskiet:

Graag wens ons al die skuts wat die afgelope vakansie aan die SA kampioenskap te Kaapstad deelgeneem het geluk met puik gedrag en goeie prestasies.  Fransie Webb bring drie silwer medaljes terug terwyl Ruben Roux en Tiaan Hart elkeen ‘n brons medalje verower het.  Meeste van die skuts verbeter hul persoonlike beste totale, dit is voorwaar iets om op voort te bou!

 Krieket:

Die eerstespan neem aan die Weston-krieketweek deel.  Die spelers se gedrag was onberispelik en goeie maniere is gekomplimenteer.  Pionier verloor vier wedstryde teen onderskeidelik Milnerton, Howick, Hans Moore en Stellenberg.  Pionier wen teen Ferrum en speel gelykop teen Heronbridge Kollege.  Die wedstryde teen Weston en Heronbridge Kollege het uitgereën.  Hierdie was ‘n goeie leerskool vir ‘n jong Pionierspan.  Volgende jaar sal ons sterk terugkom en goed kompeteer.

 Ringbal:

Joanette Badenhorst en Neil van Rooyen ontvang SA-klere vir ringbal terwyl Tarien du Plessis en Chane du Pleez ook aan die toernooi deelgeneem het en pragtig presteer het. Joanette word in die Presidentspan opgeneem terwyl Neil vir die uitnodigingspan verkies word.  

 Program vir die week:

Woensdag 12 Oktober- Kooroptrede by Klipkerk
Vrydag 14 Oktober  - Matriekafsluiting uit die Klipkerk (12:00)

Herald 19 September 2011

 Mnr Coetzee- ‘n pluimbal kampioen!

 Pionier  is só opgewonde om die volgende nuus aan Vryheid te bring.  Mnr. Coetzee het die afgelope week in Kaapstad aan ‘n pluimbal kampioenskap deelgeneem.  Hy het sy Protea kleure verwerf vir Senior Veterane pluimbal en is in die SA-span ingesluit.  Geluk, Meneer, dit wil gedoen word!

 Tennis:

Vrydag middag het Pionier as gasheer opgetree vir St. Dominic’s.  Pionier het met 8 stelle teenoor 4 stelle gewen.  Die groottotaal was 64 teenoor 40.  Baie geluk aan Pionier se tennisspelers, dis ‘n oortuigende wen!

 Atletiek:

Die afgelope naweek neem twee leerlinge aan die ASA Atletiek byeenkoms te Durban deel.  In die dogters o/15 diskus behaal Anneri Lens ‘n derde plek.  Bea-Marie Schutte neem in die o/15-ouderdomsgroep deel aan die 100m hekkies, 300m hekkies, 100m en 200m en behaal in al die items eersteplekke.  Hou bene hou, Bea-Marie!

 Krieket:

Ons is trots om te berig dat Nico-Jan Chowles, Jacques Koster, Llewllyn Schwab en Gavin Bosman in onderskeidelik die 0/15- en o/19 Noord-Natal krieketspanne ingesluit is.  Mnr. J Scheepers word in die senior klubspan ingesluit en is ook die afrigter van die o/19-span.  Baie geluk!

 Die o/15B-span het krieket teen Landbou gespeel.  Pionier kolf eerste en teken 113 lopies aan.  Geert Slump in die beste kolwer met 64 lopies.  Landbou word vir 98 uitgeboul.  Pionier wen met 14 lopies.  Die beste boulers was Jan Versluis wat 4 paaltjies vir 13 in 4 boulbeurte, Lood Swanepoel neem 4 paaltjies vir 20 in 4 boulbeurte en Norman Brown het 3 uitgeboul vir 23.

 Visvang:

Die Trans-Natal kampioenskappe het die afgelope naweek plaasgevind.  Die A-span, wat uit Emminé Mostert, Neels Mostert, Ruan Joubert, Tertius Joubert, Ruan Erasmus en Stoffel Els bestaan,  het 2de gekom.  Die B-span waarin WP Schoeman was, het hul afdeling gewen.

 Leerlingbestuur van 2012:

 Baie geluk aan die volgende leerlinge wat verkies is tot die leerlingbestuur van 2012.  20 van hierdie leerlinge is ook verkies as koshuisprefekte.

Seuns: Johan Ackhurst, André Bester, Dian Boshoff, Gerhard Bronkhorst, Nico-Jan Chowles, Flippie du Plooy, Georg Greyling, Herman Grobler, Johan Liebenberg, Peet Meyer, Combrinck Smit, Pieter Swart, Mauritz Viljoen en Johann Visser. 

Dogters: Sunel Fourie, Paula Germishuys, Dané Louis, Amoné Nel, Carmen Olsen, Maretha Peyper, Marochelle Rheeder, Danielle Skews, Anneke Smith, Martenique Swanepoel, Anel van Heerden, Desiré van Niekerk, Sanri van Zyl, Joné Vreken.

Herald 12 September 2011

 Pionier is akademies nommer 1! Geluk!

 Daagliks swoeg en sweet Pioniers in die skoolbanke, en met die volgende uitslae kan on sien dis alles die moeite werd is.  Baie sterkte aan al die matrieks wat Maandag met die proefeksamen begin het, ons plaas al ons vertroue in julle!

 Op die jaarlikse akademiese toekenningsfunksie wat deur die Departement van Onderwys gehou is vir prestasies gelewer tydens die gr.12 eindeksamen in 2010, het Hoërskool Pionier uitstekend presteer deur met talle toekennings bekroon te word.

 15 lede van die personeel het elk ‘n sertifikaat ontvang vir die feit dat kandidate in hulle klas ‘n 100% slaagsyfer in elke leerarea gehad het. 

 Sertifikate en wissel trofee is ook toegeken aan die volgende personeel vir die beste uitslae gelewer in hul spesifieke vakgebiede:

Mevv. Nieuwoudt en Vermaak vir Afrikaans Huistaal; mnr. en mev. Aucamp vir Wiskunde en mnr. Koch vir Fisiese Wetenskap.  Die wisseltrofee vir die gesamentlike beste prestasie in Wiskunde en Fisiese Wetenskap is ook aan Pionier toegeken.  Verder het die skool ook ‘n sertifikaat ontvang vir sy 100% slaagsyfer.  Pionier is ook as die beste akadmiese hoërskool in die Vryheidstreek bekroon, waarvoor ‘n trofee en ‘n skild toegeken is.

 Met hierdie toekennings het die Departement van Onderwys op ‘n tasbare wyse erkenning verleen aan die uitstaande gehalte van akademiese werk wat by Pionier gelewer word en is daar weereens bevestig dat dit ‘n skool is waar uitstekende werk gelewer word.  Pionier is sowaar ‘n akademiese skool van hoogstaande gehalte is.

Herald 7 September 2011

Vrydag is opedag!

 Die jaar snel by ons verby en voor ons, ons oë kan uitvee is dit tyd vir die matrieks om hul laaste voorbereidings te tref vir die proefeksamen en daarmee saam kom die opedag.  Om te dink die Pioniers moet afskeid neem van ‘n spesiale groep leerlinge en die Pionier sonnetjie is weer reg om te skyn oor ‘n nuwe groep leerlinge.  Graag nooi ons alle voornemende ouers en leerlinge uit na die opedag wat Vrydag, 9 September, plaasvind.  Die verrigtinge begin van 09:00 tot 12:00.

 Prefekte 2012:

Die nuwe leierskorps vir 2012 by die skool en die koshuis is aangewys.  Ons bedank die leiers van 2011 vir al hul harde werk en wens die nuwe groep leiers alle sterkte toe met hul take en verantwoordelikhede.

 Krieket:

Ons wens die volgende leerlinge geluk met hul insluiting in die Vryheid-streekspan.  o/19’s is Nico-Jan Chowles, Matthew Stride en Jacques Koster.  Die o/15’s sluit Michael Hayes, Rudi Doubell, Rudi Potgieter, Gavin Bosman, Keagan Naude en Llewllyn Schwab in.

 Krieket teen Landbou:

Pionier kolf eerste en behaal 211 vir die verlies van een in 20 boulbeurte.  Nico-Jan Chowles slaan ‘n uitmuntende 122 nie uit nie, terwyl Henk Janse van Rensburg sy vyftigtal met 4 lopies mis.  Landbou kry 147 vir 5 in die toegelate boulbeurte.  Christiaan Botha is die beste bouler met 2/18.  Pionier wen met 64 lopies.

 NKZN Jeugkoor:

Pionier se twee nagtegale, Vivien de Bruyn en Yolande de Wet word ingesluit om in die NKZN jeugkoor te sing in 2012.  Geluk!

 Landsdiens:

Hierdie kwartaal fokus ons op inheemse bome.  Mnr. en Mev. Wood het ‘n insiggewende praatjie gelewer oor die identifisering van bome.  Daar word beoog om ‘n boom by LMS koshuis te plant waar die Gr8-dogters bly.

 Newcastle Eisteddfod:

Wimpie Steenkamp en die rasieleiers word uitgenooi na die prysuitdelingsfunksie wat 1 September 2011 plaasgevind het.  Wimpie het 100% vir sy sang behaal in die ligte vokale afdeling terwyl die rasieleiers van Pionier ‘n dubbel goud behaal het, en as die beste dansgroep aangewys is.  Baie geluk!

 Unisa eksamen:

Anke Gröpp slaag haar graad 1 en 2 teorie eksamen met lof, terwyl Jaco Fourie sy graad 4 teorie eksamen met lof geslaag het.  Ruan Grobler het sy graad 2 geslaag.

Tennis:

Pionier speel Vrydag in gure weer teen Ladysmith tennis, en verloor 3-15.

Herald 29 Augustus 2011

PHS: Newcastle Eisteddfod reusesukses!

Die weer begin al warmer word en boomplantdag en die lentesokkie van Donderdag  is op al die Pioniers se lippe.  Dit is hoog tyd dat die Pioniers weer  litte losmaak met hul beroemde Pionier dans.

Rocco de Villiers:
Rocco de Villiers, met ‘n koeivelpak en ‘n flambojante sonneblom op die lapel, het Donderdag die losie verwarm met klavierspel wat geklink het soos engele spel.  Dankie aan almal se reëlings en die ondersteuning van die gemeenskap. Ons maak volgende jaar weer so!

Newcastle Eisteddfod:
Die afgelope week se Newcastle Eisteddfod het vir Pionier-leerlinge puik prestasies opgelewer.  Ons is trots op al die leerlinge wat gesing het en aan voordrag deelgeneem het.  Natasha van Vuuren het ‘n silwer vir voordrag ontvang terwyl Marcel Meyer en Samantha Dippenaar goud vir voordrag gekry het.  Maryke Fourie en MarcelleMeyer het goud vir lees ontvang. 
In die sang kategorie het Lelani van der Vyver, Heidi Loggenberg, Morné Kruger, Wensel Muller, Emine Mostert en Cara Peyper silwer sertifikate vir die ligte vokale afdeling ontvang. 
Danielle Skews, Gerhard Pretorius, Marozelle Stegen, Herman Wintergreyling, Veronica van der Walt, Lize Claassen, Micelle Victor en Lydia Meij het goud ontvang.
Vivien de Bruin, Madelein Liebenberg, Dominique de Wet en Corlea Kloppers het dubbel goud ontvang in die ligte vokale afdeling.  Wimpie Steenkamp en Charlene Louw het ongelooflike prestasies opgelewer met 100% wat as ‘n trippel goud kwalifiseer.
Die koor het ‘n dubbel goud ontvang met ‘n ongelooflike persentasie van 90%.  Baie geluk aan die koor en tannie Karen vir al hulle harde ure en oefening wat sowaar vrugte afgewerp het.

Hengel:
Ruan Joubert neem die week aan die internasionale varswater oewer hengel toets kampioenskappe deel.  Ons wens hom sterkte toe, stywe lyne, Ruan!

Opedag:
Die jaarlikse opedag vind Vrydag, 9 September, plaas.  Graag nooi ons alle voornemende gr 8’s van 2012 en enige ander belangstellende leerlinge en hul ouers uit na Pionier.  Dis ‘n fees om ‘n Pionier te wees, kom bespreek jou plekkie onder die Pionier son!

Program van die week:
Woensdag: Krieket teen Landbou (tuis)
Tennis teen Ladysmith (datum nog nie gefinaliseer teen druktyd nie)
Donderdag: Lentesokkie en Boomplantdag

Herald 22 Augustus 2011

 Wildsfees was ‘n wilde sukses

 Wildsfees:

Die Wildsfees van 2011 is agter die rug en graag bedank ons elke individu wat bygedra het tot ‘n suksesvolle Wildsfees.  Dankie aan die gemeenskap wat die Wildsfees ondersteun het. Elke ouer, leerling, personeellid en beheerliggaamslid word bedank vir al hul beplanning en harde werk. 

 Rugby:

6 Augustus het Pionier se 7’s-span aan die HTS Witbank @lantic 7’s deelgeneem.  Pionier klop  in die uitdunne vir Secunda 39-0, wen Rob Ferreira 10-7 en verloor teen Centurion 7-48.  In die plaat semi-finaal wen Pionier Jeppe Boys High 19-17.  Ongelukkig verloor Pionier in die finaal teen Brandwag met n telling van 7-38.

 Die afgelope naweek het die 7’s-span na Durban vertrek om aan die Glenwood @lantic 7’s deel te neem.  In die uitdunrondtes wen Pionier vir Clifton 14-0, klop Montana 31-10 en seëvier teen HTS Tuine 33-0.  Ons speel gelykop teen Sarel Cilliers 14-14.  In die semi-finaal klop Pionier Excelsior, wat  in 2010 nommer 2 in SA was, met 19-12.  In die finaal verloor Pionier 10-22 teen Maritzburg College.  Dankie aan Mnre Venter en Swanepoel vir die opofferings en harde werk wat hulle in hierdie span ploeg.

 Atletiek:

Bea-Marie Schutte neem die naweek aan die ASA-byeenkoms te Durban deel.  Sy kom onderskeidelik eerste in die 100m-, 200m- en 300m hekkies.  Baie geluk met die puik prestasie.

 Skyfskiet:

Graag dra Pionier  gelukwensings aan die volgende skuts oor wat KZN-kleure verwerf het.  F. Webb, T. Hart, C. Malan, R. Roux, M. Rheeder, M. Swanepoel, S. Maree, B. Smith, M. Myburg, C .Nel, S. Dippenaar, L. Claasen, L. Maartens, J. Lotter, D. Kirsten en T. Soloms.  Pionier het 4 goue medaljes en 3 brons medaljes verower.  Die skuts bring ook 7 trofeë of skilde terug.  Dankie vir jul puik gedrag en dat Pionier se naam in ere gedra is.

 Ruitersport:

Die ruiters het uitstekend presteer tydens die SANESA - kampioenskappe vir skole vanaf 6-9 Augustus in Kyalami.  Melissa Steyn, Wilhelmina Foord , Lieneke Van Vuuren ,  Danell Theron,  Annika Liebenberg  behaal prestasies onder die top-20 in verskeie kategorieë, hulle ontvang ook balkies vir die Mpumalanga-span waarin hul opgeneem is.

 Besoek van Gideons

Maandag, 22 Augustus,  het die Gideons die saal byeenkoms bygewoon en aan elke leerling in die skool ‘n Bybel in hul gekose taal oorhandig.  Ons sê dankie vir hierdie pragtige gebaar.  Ons weet dat elke leerling hierdie Bybel sal koester.

Herald 15 Augustus 2011

 PHS: Wildsfees word musiekfees.

 Die wildsfees trek hierdie jaar ‘n splinternuwe baadjie aan, met ‘n nuwe konsep wat gevolg word.  Die Wildsfees gaan ‘n oop arena atmosfeer skep, met ‘n legio stalletjies en ‘n groot verhoog waar daar vermaak gaan plaasvind.  Almal is welkom om die wildsfees by te woon.  Daar is nie spesifieke lapa’s waar net uitgenooide gaste verkeer nie.  Dus sien Pionier uit om gasheer te speel vir ieder en elk.

  Die kostafels gaan behoorlik kreun en ‘n tekort aan vermaak sal daar beslis nie wees nie.  Vir die buitelug entoesiaste is daar ‘n pretloop- en bergfietswedren terwyl die spiertiere hul spiere gaan bult in die kragman kompetisie.  Hou jul oë en ore oop vir die deelnemers van ‘Vryheid-het-talent’ en mej. Wildsfees, hierdie twee items beloop om groot skares te lok. 

 Pryse van kaartjies beloop as volg:

Naweekpakket wat ‘n ete Saterdagaand insluit: R200 vir volwassenes en Hoërskool leerlinge, R100 vir laerskoolleerlinge en gratis vir voorskoolse kinders.

Dagtoegang Saterdag: R20 vir volwassenes en kinders tot 15:00

Saterdagaand en vertonings sonder ete: R 150 vir volwassenes en Hoërskoolleerlinge, laerskoolleerlinge R100 en voorskoolse kinders gratis.

 www.pionier.co.za

(034) 981 3145

 PROGRAM:

 VRYDAG 19 AUGUSTUS  2011

12:00 Opening van Wildsfees

           Potjiekos kompetisie

19:00- 22:00 Pionier Koshuis Serenade

22:15- 23:30 Veldsokkie/Opkomende kunstenaar

23:45 Hekke sluit

 SATERDAG 20 AUGUSTUS 2011

07:00-07:45 Registrasie Wildsfees Pretdraf en Bergfiets (5 en 10 km pretdraf R30.00)(12 en 25 km fietsry R40.00)

08:00 Wildsfees Pretloop en Bergfiets begin

08:00 HEKKE OPEN VIR WILDSFEES

·         Stalletjies en pretpark open

·         Vryheid het Taent finaliste

·         Boeresport en skyfskiet

·         Mej Wildsfees beoordeling

·         4x4 kompetisie

·         Teetuin Open

·         SAP –honde Vertoning

·         Dans-  en mode vertonings

  12:00 – 13:00 Tribute 50’s to 90’s Michael D & Chanene

13:30 – 14:30 Sterkman Vertoning

14:30 – 17:00

·         Wouter van de Venter en Carle van Deventer

·         Karoo groep (Pieter Smith, MD Greyling, Wouter van de Venter en Carle van Deventer)

 16:30 Karnivoor Saal Open

·         Pieter Smith

20:00- 21:00  Robbie Wessels

21:00 – 23:00 Veldsokkie

23:00 Biertent Sluit

23:30 Hekke sluit

Herald 1 Augustus 2011

PHS: Rugby aandliga skop af

Die kil, koue winterswinde laat almal lui en lam. Die sneeu naby Vryheid was op almal se lippe.  Tot mnr. Koch se wetenskap-leerlinge wat nog nie sneeu ervaar het nie, het heerlik in die sneeu baljaar.  Nie teenstaande die koue het Pionier vuurwarm prestasies opgelewer.

ATKV Afrikaans olimpiade:
Ons is trots op te berig dat Joné Vreken in die Top-20 van KZN se ATKV olimpiade geëindig het, ons sien uit om nog van Joné  in die toekoms te lees as sy ‘n bekende digter of outeur geword het.

Ruitersport:
Tydens die afgelope vakansie het Danell Theron en Melissa steyn aan die Natal SA Boerperd Streekskampioenskappe deelgeneem.  Danell word as kampioen ruiter van die o/19- groep aangewys en behaal verkeie ander top prestasies.  Melissa se perd, Pandan Chilly word as universele kampioen reunperd aangewys terwyl sy as reserwe kampioen ruiter in die o/19-groep aangewys is.
Lieneke Janse van Vuuren, Danell Theron, Wilhelmiena Foord, Melissa Steyn en Anika Liebenberg verteenwoordig Mpumalanga Ruiterspan by die Suid-Afrikaanse Nasionale skole kampioenskap wat plaasvind vanaf 6-9 Augustus te Kyalami.  Sterkte aan al die ruiters wat tans met harde oefening en afrigting besig is.

Top-10 :
Die top-10 van elke graad is aangekondig en graag wens ons die volgende leerlinge geluk wat die nommer een posisie in elke graad beklee.  Graad 8: Nicole Pelser: , graad 9: Carike Odendaal, graad 10: Ashley Naudé, graad 11: Joné Vreken en graad 12 Melyssa van Heerden:

Rugby:
Die aandliga skop hierdie Donderdag af op Pionier se velde, sterkte aan al die spanne.  Vrydag vertrek die 7’s-rugbyspan na Witbank om aan die Atlantic 7’s toernooi deel te neem, ons hou duime vas en vertrou dit sal goed gaan.

Atletiek:
Anneke Smith, Briania Doust, Danéll Nortjé, Anri van Rooyen en Bia-Marie Schutte is in die KZN- jeug ontwikkelingspan opgeneem wat Oktober aan die Jeugspele te Polokwane gaan deelneem.

Herald 25 Julie 2011

 Welkom by Pionier

 Graag heet ons die groot aantal nuwe inskrywings welkom wat van heinde en verre Pionier as hul nuwe heenkome gekies het. Ons glo julle sal baie gelukkig wees in Pionier.

Pionier is so bevoorreg om ‘n Duitse uitruilstudent, Janna Heyen,  te huisves.  Dit is ‘n nuwe ervaring vir elkeen om alles te hoor van die kultuur, tradisies, opvoeding en skoling van Duitsland. Ons hoop die tydjie by Pionier is leersaam.

 Atletiek:

Die uitslae van die kwalifiserende byeenkoms, te Durban, vir die jeugspele lyk as volg:

Anri van Rooyen ontvang ‘n 1ste plek in die 800m en ‘n 3de in die 1500m.  Bea-Marie Schutte het twee 1ste plekke in die 100m- en 400m hekkies behaal.  Anneke Smith kom 2de in die 800m en 1ste in die 1500m.  Briania Doust was 2de in die hoogspring terwyl Danell Nortje ‘n 2de plek in die 400m hekkies losgeslaan het.  Mauritz Viljoen kom 3de in die 400m hekkies.

 Rugby:

Dian Boshoff word verkies tot die Natal o/17-span wat in Oktober aan die SA Jeugspele te Nelspruit gaan deelneem.  Geluk met die puik prestasie, Dian!

Die aandliga skop 11 Augustus af met o/15-leerlinge wat deelneem met die oog om volgende jaar vir o/16-spanne raakgesien te word. Die ope afdeling maak ook gereed vir volgende jaar.  Die skole wat deelneem aan die liga is Vryheid Hoër, Ferrum, Sarel Cilliers, Landbou en Pionier.

 Landsdiens:

Marochelle Rheerder word tydens die Provinsiale kamp te Cedara gekies om KZN te verteenwoordig op die Nasionale Projek.  Bianca Wagenaar en Henco Rheeder word as reserwes gekies.  Silwer toekennings word aan Branden Weideman en Martinique Swanepoel oorhandig.

 Afrikaans-Ekspo:

Maryke Fourie en Paula Germishuys het in die Prosa-afdeling op provinsiale vlak 80% behaal vir hul skryfstukke.  Hierdie skryfwerk het deurgedring na Nasionaal.  Pionier is trots op julle!

 Wildsfees 19 en 20 Augustus:

Die Wildsfees kruip al nader.  Graag  herinner ons julle aan “Vryheid-het-talent”.  Kom wys jou staal en wat in jou steek.  Inskrywings beloop slegs R50 per item.  Prysgelde is indrukwekkend en maak dit verseker die moeiete werd om ‘n paar note te kom sing of danspassies te lewer. Verdere aktiwiteite om na uit te sien, is die kragman-kompetisie, karnivoor tent, kosstalletjies, skoolserenade, veldsokkie en ‘n biertent.  Die gaskunstenaars gaan ook die Wildsfees met hul sang verwarm.

Herald 18 Julie 2011

Pionier hiberneer nie!

Wintervakansies is daar vir leerlinge, ouers en personeel om te hiberneer. Nie by Hoërskool Pionier nie! Hierdie vakansie was bedrywig en prestasies van top gehalte is gelewer.

Rugby:
Lungisa Mlaba, die kaptein van die NKZN-span,  is tot die VKB Plattelande span verkies tydens vanjaar se provinsiale rugbytoernooi te Reitz.  Baie geluk, Lungisa! Lungisa gaan later die jaar na Skotland en Engeland vertrek.  Die
o/19-span wen hul eerste wedstryd teen Skema 22-15, verloor hul tweede wedstryd teen Lynx-Noord 0-16 en is ongelukkig in hul finale wedstryd waar hulle 28-60 teen die Vrystaat Kiewiete verloor.
 
Die o/16 NKZN-span het te Frankfort gaan wedywer en tot in die finaal gevorder en gelykop 5-5  geëindig.  Christiaan Botha word aangewys as die speler van die wedstryd in die finaal.  Emile Botes en JJ van den Hoogen word in die
VKB-span opgeneem en Emile Botes is aangewys as die beste nommer 5 slot en JJ van den Hoogen as die beste losskop stut.

Tydens die Nasionale akademie week te Johannesburg, word Roedie de Wet as speler van die wedstryd aangewys by een van die kragmetings .  Hierdie spn wen twee van hul wedstryde en sneuwel net in een kragmeting.

Atletiek:  Bea-Marie Schutte, Briania Doust, Anneke Smith, Danell Nortje, Anri van Rooyen  en Mauritz Viljoen  het aan ‘n kwalifiserende byeenkoms vir die SA-spele deelgeneem.  Al hierdie leerlinge het puik uitslae gelewer.  Eerskomende naweek lê ‘n harde byeenkoms voor te Durban.

Graag verwelkom ons vir Anne-Marié Fourie by Pionier.  Sy gaan vir 8 weke haar proeftyd hier voltooi.  Ons hoop sy vind die leerskool aangenaam.

Pionier betoon sy diepe medelye aan die familie en vriende van Dean Struwig, wat in ‘n tragiese motorfiets-ongeluk die vakansie oorlede is.

Herald 13 Junie 2011

Kolskoot vir Pionier

Pionier se skuts het puik gevaar tydens die afgelope naweek se Noord-KwaZulu-Natal skyfskietkampioenskappe, ondanks strawwe mededinging van veral Ferrum Hoërskool.  Die skool word aangewys as die Sporter- en Veerklaskampioen en verower 12 van die 18 trofeë.  Die Noord-KZN-span bestaan uit 34 skuts, waarvan 19 Pionier-leerlinge is.  Noord-KZN kleure is toegeken aan: L. Claassen, S. Dippenaar, M. Rheeder, L. Maartens, F. Webb, T. Hart, C. Malan, R. Roux, M. Myburg, C.Nel, B. Smith, N. Smuts, J. Lötter, T. Solms, D. Kirsten, B. Wagenaar, JT Claassen, M. Swanepoel en S.Maree.

Rugby:
Ons is baie trots om te berig dat Lungisa Mlaba verkies is tot kaptein van die Noord-KZN o/19 rugbyspan.  Hierdie span, onder leiding van Lungisa, gaan die komende vakansie aan ‘n rugbyweek te Reitz deelneem. Geluk, Lungisa!

Hokkie:
Baie geluk aan die 9 spelers van Pionier wat tot die distrikte span vir o/14 verkies is.  Hierdie span sal in Augustus aan ‘n toernooi te Pietermaritzburg deelneem.

Redenaars:
Vier van Pionier se leerlinge, Pieter Swart, Maryke Fourie, Carike Odendaal en Bianca Wagenaar  het die afgelope naweek aan die halfeindrondte van die ATKV-redenaars kompetisie te Ladysmith, deelgeneem.  Strawwe kompetisie was aan die orde van die dag, baie geluk aan elke spreker wat Pionier se naam goed gestand gedoen het.

Wildsfees:
Pionier se jaarlikse wildsfees lê om die draai en wag.  Hierdie jaar kan die publiek uitsien na ‘n aantal top kunstenaars wat gaan optree, insluitende Robbie Wessels en Pieter Smith.  “Vryheid-het-talent” is ‘n eerste op die kalender, ‘n talentkompetisie wat ieder en elk uitnooi om teen ‘n minimale inskrywingsfooi te kom wys wat in jou steek.  Die karnivoor-wildproetafels gaan soos gewoonlik kreun onder die eksotiese lekkernye. Suid-Afrika se sterkman rekordhouers gaan ook kom spiere bult gedurende die Wildsfees-naweek. Kaartjies word by die skoolkantoor  te koop aangebied.

‘Loyalty’-kaartprojek:
Graag bedank ons vir Abaqulusi Superspar te Vryheid wat hierdie jaar al talle projekte op die been gebring het ten bate van ons skool.  ‘n Spesiale dank aan mnr. Stephen Smith vir sy inisiatiewe rakende hierdie saak en die heerlike onthaal tydens die Westville en Vryheid Hoër naweek.  Daar is ‘n spesiale ‘loyalty’- kaart projek waarby die ouers, leerlinge, onderwysers en meer belangrik, die skool baat vind.  Ouers wat nog nie ingeteken het vir die kaart, kan by die skool of Superspar inskrywingsvorms voltooi. 

Herald 6 Junie 2011

Pionier woel Westville

Die opwindende wintersport-seisoen van 2011 het Saterdag, 4 Junie, tot ‘n einde gekom.  Pionier was slaggereed vir die uitmergelende wedstryde teen Westville Boys High en Ladysmith.  Ons is trots om te sê dat die seisoen op ‘n hoogtepunt geëindig het vir alle spanne, dalk was die tellings nie altyd in ons guns nie, maar om die wedywering te geniet en puik sportmangees te toon, lewer nét soveel satisfaksie.

Die uitslae word gedruk met Pionier se tellings wat eerste verskyn.
Rugby: o/14A 11-10; o/14B verloor 15-31 teen Westville o/14C; o/15A 0-63; o/15B 5-41 teen o/15 C; o/16A 26-0 teen o/16B; o/16B 56-0 teen o/16D; 3des verloor 8-26 teen Westville 5des; 2des wen 6-5 teen Westville 3des.Die 1ste-span wen Westville se eerstespan 26-22.  Westville word tans as die 18de beste span in die land geplaas, hulle het al vanjaar afgereken met Pretoria Boys High, Hilton, Jeppe Boys High, DHS, Kearsney en Michael House.  Dit is voorwaar ‘n ongelooflike prestasie om hulle te klop.

Netbal: o/14A 25-10; o/14B 23-6; o/15A 18-11; o/15B 15-3; o/16A 20-8; o/16B 18-8; 2des 30-11; 1stes 20-21.

Hokkie: o/14A 0-0; o/14B 0-0; 0/16A 2-2; 0/16B 2-1; 2des 0-1 en 1stes 0-2

Wintersport teen Landbou:
Rugby: o/14B speel teen Landbou se o/14A-span en wen 12-7.  o/15A wen 44-0 en die derdespan speel teen ‘n Noord-Natal ontwikkelingspan en wen 50-0.

Netbal: o/14A 30-0; o/14B 30-2; o/15A 22-13; o/15B 16-6; o/16A 17-27; o/16B 16-6; 2des 22-5.

Hokkie: o/15 A wen met ‘n reuse telling van 6-0! Geluk dogters!

Atletiek:
Die volgende leerlinge word ingesluit in die Natal oefengroep vir die Suid-Afrikaanse Spele wat van 1-6 Oktober  in Polokwane sal plaasvind: Bea-Marie Schutte, Danel Nortje, Anri van Rooyen, Anneke Smith en Briana Doust.  Sterkte vir die voorbereidings, dogters!

Ruitersport:
Lieneke van Vuuren, Danell Theron, Melissa Steyn en Annika Liebenberg het die afgelope naweek aan die derde kwalifiserende SANESA skole skou en Ope skou vir Mpumalanga deelgeneem in Badplaas.  Hulle het puik prestasies gelewer en Pionier se naam hoog gehou!
Herald 30 Mei 2011

 Geluk, Pionier! 48-5

 ‘n Suksesvolle naweek, met wintersport teen Hoërskool Ferrum, het sy laaste asem uitgeblaas met ‘n verlate sportveld wat van baie aksie kan getuig.  

Perderuiters, ‘n statige, antieke MG met mejj. Pionier en Ferrum daarin en ‘n seremonie waar ‘n glasie geklink word deur die eerstespan kapteine, het ‘n kersie op die dag geplaas.  ‘n Komiese insident het homself afgespeel toe drie graad 8-leerlinge hul plaasstreke uitgehaal het en die perde se ‘besigheid’ met hul hande opgetel het.  Dankie Rudi, Divan en Neil, julle is lojale Pioniers. 

Pionier is bitter trots op al die spoguitslae.  Die uitslae word gedruk met Pionier se tellings eerste.

 Rugby:

Die rugbyspanne het nie telleurgestel nie en het skoonskip gemaak by hierdie derbydag.  Die o/14 A-span wen 17-7, o/14 B wen 7-5 teen Eshowe. o/15A 32-0; o/15B 17-17 teen die Noord-Natal ontwikkelingspan.  o/16A 29-5; o/16B 43-0 teen Eshowe; 3des 50-3 teen Eshowe; 2des 22-0 en die vlagskip het ‘n aanskoulike wedstryd gespeel en 48-5 gewen.

 Netbal:

Baie geluk aan al die netbal-spanne wat pragtige telling opgelewer het.  o/14A 20-7; o/14B 32-8; o/15A 15-13; o/15B 12-8; o/16A 24-19; o/16B 4-26 teen Eshowe.  Die 3des wen 15-10; 2des 19-16; en eerstes 25-28.

 Hokkie:

o/14A 0-3; o/14B 1-2 teen Eshowe; o/16A 0-1; o/16B 0-1; 2des 1-0 en 1stes 0-1.

 Rugby:

Die volgende leerlinge is tot die Natal Akademie B-span verkies: JP Mollentze, Roedie de Wet, Dian Boshoff en Riaan Brummer.  Hierdie vier seuns gaan Natal-platteland verteenwoordig tydens die rugbyweek die komende vakansie.  Sterkte met al jul voorbereidings en strawwe oefening wat voorlê.

 Hokkie:

Shaun Bender en Heino Schutte is tot die 0/16 Vryheid-streekspan verkies. Baie geluk!

 Program van die week:

Woensdag, 1 Junie, word daar teen Landbou gewedywer.

Saterdag, 4 Junie, Rugby teen Westville en Hokkie en Netbal teen Ladysmith (tuis).

(Skolenuus: 23 Mei 2011)

Ferrum, die Pioniers maak reg!

‘n Week gevul met geesdrif, genot en groot pret wag op die Pioniers soos wat die groot wedywering teen Hoërskool Ferrum nader kruip. Pionier is slaggereed vir die aanslag van die groen en wit wat Saterdag sy opwagting maak.

Wintersport:
Dinsdag, 17 Mei 2011, het die Pionier leerlinge reg gestaan om teen St. Dominic’s van Newcastle te wedywer.  Die uitslae is as volg:
Hokkie: o/16B speel gelykop 0-0 terwyl die eerstespan dogters in ‘n naelbyt stryd 0-1 verloor het.  Die seunspan verloor 0-3, maar toon pragtige vordering.
Netbal: o/14B wen 25-4; o/15B vee stof in hul teenstanders se oë met ‘n telling van 36-1; 2des wen 13-10 en die 3des seëvier met ‘n pragtige telling van  18-0. Baie geluk aan al die netbalspanne wat skoonskip gemaak het.

ATKV- redenaars:
Die volgende leerlinge is deur na die halfeindrondte van die ATKV-redenaarskompetisie.  Juniors: Bianca Wagenaar (Gr 8) en Carike Odendaal (Gr 9). Seniors: Zonike Marais (Gr 12), Lieneke Jansen van Vuuren (Gr 12), Pieter Swart (Gr 11) en Maryke Fourie (Gr 10). Sterkte met die voorbereidings vir die volgende rondte.  Flink redenasie en waterdigte standpunte maak van Pioniers uitblinkers op dié terrein.

Netbal:
Pionier is trots om aan te kondig dat die volgende  leerlinge tot Natalskole netbalspanne verkies is: Larischa van Jaarsveld, Eminé Mostert en Bianca du Toit is ingesluit in die o/14-span terwyl Suné Jacobsz tot die o/17-span verkies is.

Afrikaans- en Wêreldkennis Olimpiade:
Daar het hierdie jaar 26 leerlinge aan die Afrikaans Olimpiade deelgeneem terwyl Pionier  34 leerlinge vir die Wêreldkennis Olimpiade ingeskryf het.  Dankie vir elke leerling se deelname.

Cravenweek- rugbyproewe:
Die afgelope naweek het Pionier gasheer gespeel vir  o/12- en o/13 spanne se Cravenweek- proewe.  Dit was ‘n spoggeleentheid.  Baie dankie aan al die leerlinge wat gehelp het om die naweek ‘n sukses te maak.  Ons sien uit na al die talent wat hopenlik in die toekoms hul aansluiting tot die Pionier-familie sal maak.

(Skolenuus 16 Mei 2011)
 

Leerlinge van PHS reis die wêreld vol

 Pionier staan weerlik breëbors met die voortreflike prestasies van die afgelope naweek. ‘n Besige week lê voor met talle geleenthede waar leerlinge hulself op akademiese-, kulturele- en sportgebied kan uitleef.

 Atletiek:

Simoné Meyer het die groen en goud van Suid-Afrika hoog laat wapper met haar deelname aan die Afrika Jeugspele in Botswana.  Ongelukkig het Simoné met haar opwarmingsgooi ‘n besering opgedoen.  Die gevolg is dat sy net die een gooi gehad het wat gemeet kon word.  Sy eindig algeheel derde in die diskus.  Geluk met die pragtige prestasie, Simoné!

Gholf:

Combrinck Smit het die afgelope week deelgeneem aan die “SA Country Districts” kampioenskappe te Paarl in die Wes-Kaap.  Dit was ‘n goeie leerskool en hy het dit baie geniet.  Die span het ‘n algeheel derde plek verower.

 Leierskap:

Geluk aan Anél van Heerden wat aanvaar is om deel te neem aan die “People to People Academic Program”. Sy sal ‘n leierskap beraad in Los Angeles bywoon van 6-15 Julie 2011. 

 ATKV-redenaars:

8 leerlinge het aan die eerste rondte van die AKTV-redenaars te Ladysmith deelgeneem.  Met flink redenasie het hierdie leerlinge ‘n positiewe beeld van Pionier uitgestraal.  Teen die tyd wat ons ter perse gegaan het, was die uitslae nog nie beskikbaar nie.

 Wintersport:

Die afgelope naweek het Pionier teen Sarel Cilliers deelgeneem.  Die leerlinge is deur ‘n yswind begroet, maar dit het nie die durf en moed van die Pioniers gedemp nie. 

 Die volgende uitslae word bekend gemaak (Pionier se tellings word eerste genoem):

Rugby:

o/14A 22-17; o/14B 0-17; o/15A 20-24; o/16A 5-8; 3des 19-19; 2des 14-17; 1stes 8-12.

Hokkie:

Die dogtershokkie het skoonskip gemaak met nie een doel wat teen hul aangeteken is nie.

o/14A 2-0; o/16A 4-0; o/16B 6-0; 2des 6-0 en 1stes 2-0.  Die seunshokkie het ‘n goeie leerskool gehad en 0-6 verloor.

Netbal:

Die netbal het reeds Donderdag hul bepalings gespeel.  o/14A 19-3; o/14B 22-8; o/16A 18-7; o/16B 14-8; 2des 20-14; 1stes 43-11.  Sterkte aan die o/15’s wat Maandag 16 Mei hul wedstryde speel.

Skaak:

Geluk aan al die leerlinge wat aan die skaak deelgeneem het.

(Skolenuus: 9 Mei 2011)

‘n Goeie afsluiting tot die Super 10-reeks

 Naweke se uitputtende busritte na Gauteng is vir eers iets van die verlede.  2011 se Super 10-reeks is op sy rug met Pionier wat puik presteer het.  Pionier eindig algeheel vyfde in die toernooi, ‘n prestasie waarop elke leerling en afrigter baie trots is.

 Super 10-reeks:

Die uitslae van die finaal wat 21 April 2011 te Witbank plaasgevind het, lyk as volg (Pionier se tellings word eerste genoem):

Rugby: o/14A 17-13 teen Wesvalia; o/15A 0-25 teen Ligbron; o/16A 14-5 teen Grenswag; 2des 0-3 teen Tuine Hoërskool en die 1stes wen 19-18 teen Wilgers.

Hokkie: o/14A 1-2 teen Ligbron; o/15A 1-0 teen Ligbron; o/16A 0-1 teen Grenswag; 2des 4-0 teen Wilgers en die 1stes verloor naelskraap teen Wilgers 0-1.

Netbal: 0/14A 9-8 teen Ligbron; o/15A 7-9 teen Tuine; o/16A 29-20 teen Grenswag; 2des 13-17 teen Grenswag.  Die eerstes het eers hul semi-finaal voltooi en 25-23 gewen teen Bergsig.  In die finaal val hul egter vas teen Dinamika met ‘n telling van 18-24.

 Wintersport teen Hoogenhout te Bethal:

Die uitslae van die rugbybepalings volg: o/14A 5-5; o/15A 5-15; o/15B 0-42; o/16A 3-10; o/16B 14-0; 3de-span 0-13; 2des 17-7; 1stes wen 29-8.

St. Catherine’s hokkie:

 Die eerstespan dogters speel 9 wedstryde waarvan hulle drie wedstryde wen, vier wedstryde gelykop speel en twee wedstryde verloor met slegs een doel teen Pionier.  Die seunspan het sewe wedstryde gespeel en pragtig verbeter met elke wedstryd.

  Gholf:

Combrinck Smit is gekies vir die Natal Country Districts Senior gholfspan wat tans in die Paarl Natal verteenwoordig.  Baie geluk met die puik prestasie, Combrinck!

 Ruitersport:

Die ruiters het baie mooi presteer tydens die 2de kwalifiserende skou wat in Badplaas plaasgevind  het.  Annika Liebenberg, Melissa Steyn, Wilhelmina Foordt, Lieneke van Vuuren en Danell Theron het Pionier se naam hoog gehou.  Hulle behaal sewe 1ste plekke, vier 2de plekke, vier 3de plekke en nog ‘n string ander posisies waarop hulle baie trots kan wees.

 SA kampioenskappe vir Uitvoerende Kunste:

Dominique de Wet het suksesvol deurgedring tot die nasionale kampioenskappe terwyl Corlea Kloppers een brons medalje vir die pop genre behaal het.  Dit beteken sy is tweede in haar ouderdomsgroep, aangesien geen goue medalje toegeken is nie. Charlene Louw  het twee brons medaljes vir onderskeidelik rock- en gospel genres behaal.  Sy is eerste in beide die genres, omrede daar geen silwer of goue medaljes toegeken is nie.

 Proewe:

Baie geluk aan die 16 dogters wat deurgedring het na die volgende rondte van die Natal -netbalproewe, wat 14Mei 2011 te Durban sal plaasvind.  Sterkte aan die seuns wat deurgedring het na die Natal-rugbyproewe.

(Skolenuus: 11 April 2011)

Pionier Seëvier

Pioniers het ‘n bedrywige vakansie beleef en talle kursusse en toere meegemaak.  Die uitslae lyk as volg:

 Die o/14- en o/15-hokkie – en rugbyspanne het die Volksrust sportweek bygewoon. 
Noli is as die voorspeler van die toernooi by die o/14 ouderdomsgroep aangewys.   Dis ‘n pragtige prestasie.  Die span het teen Penryn College, Brits, Standerton, Volksrust se A-en B-spanne, Piet Retief en Mandini gespeel en vier wedstryde gewen en drie verloor.  Die o/15-span het teen Stofberg, Sasolburg, Brits, Volksrust, Mandini, Piet Retief en Standerton gespeel.  Hulle wen vier wedstryde en verloor drie wedstryde. 

Die o/14-rugbyspan het in hul eerste wedstryde vasgeval teen HTS Witbank en AHS Kroonstad, maar het in die laaste wedstryd teen Penryn College gewen.  Die o/15-span wen hul eerste wedstryd teen Stofberg, verloor teen Volksrust in ‘n naelbytstryd en wen hul laaste wedstryd teen AHS Kroonstad met ‘n pragtige telling van 36-17. 

Die o/16 hokkie-en rugbyspanne het die tweede week van die Volksrust sportweek bygewoon.  Die weer was nie altyd aan hul kant nie, maar dit het nie die Pioniers se durf gestuit nie.  Die hokkiespan speel teen Sasolburg, Piet Retief, Brits, Evander, Volksrust, Piet Potgieter en Delmas.  Hierdie span verloor vier wedstryde, speel een gelykop en wen twee wedstryde.  Die o/16-rugbyspan wen twee wedstryde teen Hoërskool Bekker en Piet Potgieter en verloor een wedstryd teen Frikkie Meyer. 

Hokkie:
Die dogters se hokkie vlagskip het die Potchefstroom kliniek by die Noord-Wes Universiteit bygewoon.  Die tweedespan het wedstryde teen Goudveld, South Eastern College, HTS Vereniging, Ladysmith en Nylstroom gespeel.  Die eerstespan speel sewe wedstryde in totaal teen Hartebeespoort, Lichtenburg, Transvalia, Garsfontein, Stanford Lake, Aliwal-Noord en Goudveld.  Die kliniek was vreeslik leersaam en die dogters het die wedstryde op Astro-velde baie geniet. 

Rugby:
Ons rugby eerstespan het die rugbyweek te Vryheid Hoërskool bygewoon en die Pioniers se naam waardig gestand gedoen.  Die span wen hul eerste wedstryd teen Hentie Cilliers, gevolg deur hul tweede wedstryd teen Maritzburg College se tweedespan en speel in die finaal teen George Campbell.  Die finale telling was 15-6.  Pionier word as wenners van die week aangewys en Roedie de Wet word as die beste haker van die week aangewys.  Hierdie is ‘n spoggerige prestasie waarop Pionier breëbors van trots kan staan. 

Netbal:
Die dogters toer na Raloka, net buite Brits.  Die dogters het puik gedrag getoon en het baie by die leersame klinieke geleer en in hul spel toegepas.  Al hierdie vaardighede sal positief gebruik kan word om die Pionier-netbal se spel te verbeter en tot hoër hoogtes te neem. 

Atletiek:
Simoné Meyer en Anneke Smith neem 2 en 3 April aan die ASA Junior Kampioenskappe te Germiston deel.  Anneke behaal ‘n agtste plek in die 1500m vir dogters o/17 en Simone behaal ‘n eersteplek in die skyfwerp vir dogters o/19.  

Sterkte vir die kwartaal, Pioniers! Ons sien uit na top prestasies.

(Skolenuus: 23 Maart 2011)

Pionier Sport Skitter

 Die afgelope twee naweke het Pionier se leerlinge geleenthede behoorlik aangegryp om hulself op sportvelde op verskeie plekke in ons land te laat geld deur deeglik van hulself rekening te gee en so hul opponente te laat kennis neem van die feit dat ons hoogs kompeterend is.

Saterdag 19 Maart neem ons wintersportspanne deel teen die Wilgers Hoërskool in Pretoria en is dit veral ons hokkiespanne wat weereens hul staal wys deurgaans uitstekende spel te lewer, terwyl slegs die eerste rugbyspan die knie voor die opponente moes buig. Die volgende uitslae is behaal: (Pionier eerste genoem):

Hokkie: 
1ste span 0-3; 2de span 3-0; o16A 1-2; o15A 6-0; o14A 3-1

Rugby:
1ste span 12-44; 2de span 19-0; o16A 13-6; o15A 10-10; o14A 15-7

Netbal:
1ste span 7-42; 2de span 12-15; o16A 9-29; o16B 9-4; o15A 5-24; o15B 8-12; o14A 5-24; o14B 15-4

 Saterdag 26 Maart neem ons deel aan die Voortrekker sportdag in Pietermaritzburg waar spel van hoogstaande gehalte gelewer is en die opponente swaar geleef het. Die eerste netbalspan oortref hulself en dring met uitstekende spel deur na die eindrondte van die toernooi waar hulle teen Kuswag se langerate vasval. Die uitslae in die uitdunrondtes is soos volg:  wen Kokstad 9-7; wen Ixopo 18-5; wen Port Natal 13-12; wen Voortrekker 11-6 en verloor in die finaal teen Kuswag met  7-21.  Marlene Pretorius word aangewys as die beste doel van die dag en die beste VV van die dag is Wilhelmina Foord.

Die vier rugbyspanne speel ook uitstekende hardlooprugby en toon dat die ondervinding opgedoen teen die sterk spanne in Gauteng die afgelope paar Saterdae goud werd was. Spesiale vermelding moet gemaak word van die onder 16 span wat uitstaande spel lewer deur die sterk span van Richardsbaai met 11-0 te klop nadat hulle die vorige twee jaar ver verloor het. Die eerste span speel veral in die tweede helfte pragtige rugby en klop die Hoërskool Driehoek uit Vanderbijlpark met 29-7 nadat hulle rustyd 7-5 agter was. Ons twee junior spanne behaal ook baie goeie oorwinnings waar die o14’s vir Richardsbaai met 46-0 klop en die o15’s klop Ladysmith met 50- 10.

Ons atlete verdien egter spesiale vermelding met die prestasies wat hulle die afgelope naweek by die SA Senior Skole Atletiek Kampioenskappe in die Paarl  behaal het. Al vier ons atlete dring deur na hul onderskeie finale en lewer pogings van uitstaande gehalte: Anri van Rooyen kry ‘n 6e in die 1500m en 5de in 800m D o15.  Anneke Smith kry ‘n elfde plek in die 1500m D o17.  Bea-Marie Schutte kom 5e in die 100m en 6de in 300m H Do15 en Simone Meyer behaal ‘n 2de plek in skyfwerp D o19.

Verskeie van ons spanne is vanaf hierdie week op toere en ons sien veral uit na die rugbyweek by Hoërskool Vryheid waar ons eerste rugbyspan vanaf Saterdag drie wedstyde sal speel. Ons glo dat hulle rugby van hoogstaande gehalte sal lewer en sodoende tot die sukses van hierdie hoogaangeskrewe week sal bydra.

(Skolenuus: 23 Maart 2011) 

Emile Minnie en die koor sing harte warm.
Wat ‘n spoggerige geleentheid! ‘n Aand vir die rekordboeke.  Die koor en Emile Minnie het verlede Donderdagaand behoorlik die gehoor se asems weggeslaan.  Dit was ‘n aand gevul met musiek uit die boonste rakke en gasvryheid soos net die Pioniers kan.

Rugby:  Ons is baie trots om te berig dat Riaan Nortjé op uitnodiging van die Sharks vandag homself in Durban aan toetse gaan onderwerp.  Dis ‘n pragtige prestasie, Riaan!

Sporttoere: Die Pioniers is opgewarm en reg om te leer en met nuut gevonde kennis ‘n aanwins op die sportvelde te maak  nadat hulle die volgende toere meegemaak het:  die o/14-, o/15- en o/16-rugby- en hokkiespanne in twee verskillende tydsgleuwe na Hoërskool Volksrust se sportweek toer.  Die eerste- en tweede hokkiespanne toer na Potchefstroom en die netbal gaan hul horisonne die April-vakansie in Pretoria verbreed.  Die eerste rugbyspan woon hierdie jaar Vryheid Hoër se rugbyweek by.

Tennis: JJ van den Hoogen en Carike Odendaal het die vorige naweek gaan deelneem aan Natal -proewe te Pietermaritzburg. Dit was ‘n goeie leerskool.  Ons is trots op jul ywer en deursettingsvermoë, dit is ware Pionier-gees.

Cape Argus fietswedren:  Ons wens graag vir Juf. Candy Fourie en al die leerlinge, wat aan die Cape Argus deelgeneem het, geluk.  Dit is verblydend om te hoor Pionier word tot in die Kaap verteenwoordig!

Pionier verjaar:  Vrydag, 18 Maart word Hoërskool Pionier se verjaarsdag gevier.  Dit is met seën ‘n beskermende hand van bo dat ons hierdie jaar 34 jaar oud geword het.

Opvoedkundige sielkundige:  Pionier glo dat leerlinge in totaliteit en gebalanseerd opvoeding moet ontvang.  Daarom is ons trots om te sê dat ‘n groot aantal leerlinge waardevolle hulp en ondersteuning ontvang onder leiding van ‘n top sielkundige. 

Veiligheid en sekuriteit:  Tans word daar op strategiese plekke op die skoolterrein kameras geinstalleer aangesien ons leerlige se veiligheid top prioriteit geniet. 

Teen die tyd wat ons ter perse gegaan het, was die afgelope naweek se wintersport uitslae teen Hoërskool die Wilgers nie beskikbaar nie, maar ons vertrou dat alle Pioniers  hulself goed van hul taak gekwyt het.

(Skolenuus: 14 Maart 2011)

Bravo, Pionier! 4 Atlete deur na SA’s.

 ‘n Bedrywige week word afgesluit en Hoërskool Pionier het vinniger, hoër en beter presteer.

 Atletiek:

Pionier se bors swel behoorlik van trots met ons atlete wat die naweek te Durban deelgeneem het aan die USSASA en ASA Junior Kampioenskappe.  Wat die prestasie nog meer spesiaal maak, is dat Anri van Rooyen, Bea-Mari Schutte, Anneke Smith en Simoné Meyer KZN- kleure verwerf het en gekwalifiseer het om by  die SA-byeenkoms te Paarl sake uit te spook.  Anri behaal ‘n tweedeplek in die 1500m en ‘n eersteplek in die 800m.  Bea-Mari Schutte behaal drie eersteplekke in onderskeidelik die 100m, 200m en 300m H.  Anneke Smith behaal ‘n vyfdeplek in ‘n uitmergelende 800m en ‘n eersteplek in die 1500m.  Simoné Meyer gooi haar beste afstand aan die kus en behaal so ‘n eersteplek in die diskusgooi. Sy behaal ook ‘n eersteplek in die gewigstoot.  Annari Lens behaal ‘n derdeplek in die skyfwerp.  Wimpie Steenkamp behaal twee vyfdeplekke in die gewigstoot en skyfwerp.  Danelle Nortje behaal ‘n derdeplek in die 400m hekkies.  Briana Doust kom derde in die hoogspring en 5de in die 100m.  Johan Nel kom derde in die 2000m hindernis en Marijke Potgieter is derde in die verspring.  Christiaan Mostert behaal twee tweedeplekke in die 110m hekkies en 400m hekkies.

Pionier wens hierdie leerlinge geluk met uitmuntende prestasies uit die rekordboeke.

 Wintersport:

Die afgelope naweek het die Pioniers die busse geklim en na Hoërskool Brandwag in Benoni vertrek.  Pioniers het met durf en moed die bepalings aangepak en die uitslae lyk as volg:

 Hokkie:  ‘n Tweede keer in ‘n ry neem die hokkiespanne  aan die spesiale tradisie deel om in die saal die klok te lui. Hulle het skoonskip gemaak en al die wedstryde gewen .  In die laaste paar naelbyt minute van die wedstryd teken die eerstespan ‘n doel aan en wen so 1-0.  Die tweedespan wen 3-1 terwyl die derdes ‘n reuse telling van 7-0 aangeteken het.  Die o/16A-span het deursettingsvermoë en veggees getoon deur 3-3 gelykop te speel nadat hulle halftyd 3-1 agter was.  Die o/15A-span en o/14A’s wen beide met puik tellings van 7-0.  Geluk!

 Rugby:  Die rugbyspanne het deur die bank swaar gekry, maar sien die naweek se wedstryde as ‘n leerskool en ‘n goeie vertrekpunt om van te verbeter.  Die uitslae is as volg: o/14A 5-15. 0/15B 0-52.  o/15A 0-24. o/16B 10-15. o/16A speel gelykop 12 elk.  Die vierdespan verloor 10-24, derdes 0-27, tweedes 0-20 en die eerstespan verloor 12-32.

Netbal: o/14B 8-25.  o/14A 9-34.  o/15B 15-19.  o/15A 2-22.  o/16B 4-18.  o/ 16A speel prag netbal en verloor 6-20.  Die derdespan verloor naelbyt 5-8.  Die tweedes verloor 12-17 en die eerstes het uitstaande netbal gespeel en regte deursettingsvermoë getoon en in ‘n uitmergelende wedstryd 20-29 verloor.

 EG Jansen Redenaars:

Pionier is trots op Zonike Marais en Lieneke Jansen van Vuuren se deelname aan die finaal.  Hulle het puik gepraat en Pionier se naam hoog gehou! 

(Skolenuus: 7 Maart 2011)

Herald 7 Maart 2011

 Pioniers het die afgelope naweek wyd en suid gereis om deel te neem aan die Super 10-reeks.  Hoërskool Tuine te Pretoria was die gashere vir die naweek se wedstryde.  Die busrit was lank en uitputtend, maar dit het nie die Pioniers se durfkrag en motivering gestuit nie.  Die uitslae vir die bepalings lyk as volg:

 Rugby: Die eerstespan het die Pionier toeskouers breëbors laat staan met ‘n goeie telling van 38-12.  Die tweedespan wen 12-10 en die derdes wen 7-0.  Die o/16A-span verloor 10-11 en die o/16B-span verloor 5-12.  o/15A verloor 0-38 en o/15B verloor 19-24.  0/14A verloor 12-15 en o/14B wen 15-5.

 Netbal: Die eerste netbalspan het verloor met ‘n telling van 22-39.  Ons is baie trots op hierdie dogters se deursettingsvermoë. Die tweedespan verloor  19-20.  Die derdes verloor 10-29.  o/16A verloor net-net met 15-17 terwyl o/16B 7-22 verloor het.  o/15A verloor in ‘n naelbytstryd 12-13 en o/15B verloor 15-23.Die 0/14 A-span wen 27-18 en o/14B wen 19-17.

 Hokkie:  Die hokkie vlagskip het 2-0 gewen en die standaard hoog gestel vir die laer spanne.  Die tweedespan het nie teleurgestel nie, met ‘n pragtige telling van 5-0.  o/16A het gelykop gespeel met ‘n telling van 1-1.  o/16B wen 1-0 en o/15A wen met ‘n pragtige telling van 5-0.  Die 0/14A-span wen met ‘n reuse telling van 9-0.  Pionier het skoonskip gemaak met die hokkie bepalings.  Ons is vreeslik trots!

Tennis:  Die tennis het Vrydag reeds gespeel en gewen met ‘n telling van 62-40.

 Netbal:
Die Pionier-familie is baie trots om bekend te maak dat die volgende twee leerlinge, Chaney Hill en  Nanette Nortjé, die o/18 Noord-KwaZulu-Natal netbalspan gemaak het.  Hierdie is ‘n puik prestasie.

 Oratorsaand:
Donderdag, 3 Maart 2011, het die jaarlikse oratorsaand plaasgevind.  Die aand was ‘n reuse sukses met flink redenasie.  Die junior uitslae lyk as volg: in die eersteplek is Carike Odendaal, gevolg deur Bianca Wagner in die tweedeplek en Anneke Jordaan en Imke Nel onderskeidelik in die derde- en vierdeplek.  Die senior orators se uitslae is as volg:  Lieneke Jansen van Vuuren het as wenner geseëvier met Zonike Marais in die tweedeplek en Pieter Swart in die derdeplek.  Maryke Fourie behaal ‘n vierdeplek en CW Smith die vyfdeplek.

 VLR-verkiesing:
Die volgende leerlinge is as VLR- verteenwoordigers aangewys vir die jaar 2011: Graad 8:Chrische vd Berg, Sias Botha, Cleo Nel, Gert Cronjé, Laaren Lourens, Rudi Barkhuizen, Emminé Mostert, Riaan le Roux.  Graad 9: Danelle Rudolph, Ryan Pennington, Carlé Davel, Niel Fourie, Shannon Swayer, Willem Breytenbach, Anri van Rooyen en Henco Strydom.  Graad 10: Salomé de Villiers, Ivan Schönfeldt, Julia Meiring, Armand Potgieter, Anel Lens, JJ van den Hoogen, Maryke Fourie en Johan Nel.  Graad 11: Carmen Marais, Gideon van Zyl, Bernice Scholtz, Milandré Engelbrecht, Amoné Nel, Nico-Jan Chowles, Anneke Smith en Combrink Smit.  Graad 12:Elsabé Smit, Matthys van Rooyen, Martie Theron , Christiaan Wilken, Salette Brandt, Ivan Smit, Zonike Marais en Neels Klopper.

 Atletiek:
Simoné Meyer neem die afgelope naweek deel aan ‘n byeenkoms te Pretoria.  Sy behaal ‘n eersteplek in die diskus met ‘n groot afstand van 48, 95m.

(Skolenuus: 28 Februarie 2011)

PIONIER SKOP AF MET SUPER 10-REEKS 

‘n Miernes van bedrywighede het die afgelope week by Hoërskool Pionier afgespeel.  Pionier leerlinge was spreekwoordelike ‘besige bye’ en het sowaar goue heuning gemaak waarop Pionier baie trots kan wees.

 E G JANSEN REDENAARSKOMPETISIE:

Zonike Marais en Lieneke Jansen van Vuuren het Dinsdag flink gedink en geredeneer en só deurgedring na die finaal wat 11 Maart by Kuswag Hoërskool plaasvind.

 SUPER 10 – REEKS TEEN LIGBRON

Die Afgelope Vrydag en Saterdag het Pionier uitgehaal en gewys om Ligbron tuis te laat voel.  Goeie sportmangees was aan die orde van die dag.  Die uitslae lyk as volg:

Rugby:
Die eerstespan het in ‘n harde wedstryd 14-20 verloor, terwyl die tweedespan 10 elk gelykop gespeel het.  Die derdespan het in ‘n naelbytstryd 14-12 gewen.  Die o/16A-span het 12-20 verloor, met die o/16B’s wat 15-10 geseëvier het.  Die o/15A-span het pragtige deursettingsvermoë getoon en 21-24 verloor.  o/15B het 0-24 verloor terwyl o/14A 22-5 gewen het.  o/14B het in hul voetspore gevolg deur ‘n oorwinning van 20-0 te beklink.

Netbal:
Die eerstespan verloor hul wedstryd 21-37.  Die tweedes verloor ook 10-16 terwyl die derdes ‘n goeie telling van 23-6 aangeteken het.  O/16A stap met die louere weg met ‘n telling van 35-7.  Die 0/15A-span verllor 7-10 en o/15B wen 12-8.  Die o/14A en –B-spanne verloor beide met 9-18.

Hokkie:
Die hokkie-bokkies het goed presteer en drie van die vyf spanne wen.  Die eerstespan verloor 1-2 terwyl die tweedespan  mooi met 3-0 gewen het.  Die o/16A-span het 0-10 verloor terwyl die o/15A’s met ‘n reuse telling van 6-0 getriomfeer het.  Die o/14A’s het 2-1 gewen.

Tennis:
Reën het die tennisspelers gepootjie, maar tog wen Pionier met 49 punte teenoor 32.

Skyfskiet:
Die junior skuts het met 49 punte gewen terwyl die senior skuts met 7 punte bo uit die stryd getree het.

 KWAZULU-NATAL VARSWATER OEWERHENGEL:

Pionier is baie trots op die volgende leerlinge wat tot nasionale spanne verkies is.  Ruan Joubert is tot die South African Sports Angling and Casting Confederation se o/19 span verkies.  Hierdie is die hoogste prestasie wat in die sport bereik kan word en hy is slegs die tweede Junior in KZN wat hierdie prestasie behaal het. Ruan Erasmus en Stoffel Els is tot die SAVOF o/19A-span verkies terwyl Hein Steenkamp tot die SAVOF o/19B-span verkies is.  Emminé Mostert het die Jongdames o/19A –span gemaak.  Tertius Joubert is verkies tot die SAVOF uitnodigingspan.

 ATLETIEK:

Die liga byeenkoms het 25 Februarie te Durban plaasgevind.  Die uitslae lyk as volg: Dogters o/17: Anneke Smith behaal ‘n tweede plek in die 1500m terwyl Danell Nortje twee vierdeplekke inpalm in die 100m en 200m.  Briania Doust behaal ‘n derdeplek in hoogspring.  Mauritz Viljoen neem in die seuns o/17 afdeling deel en behaal ‘n vierdeplek in die 200m.  

(Skolenuus: 21 Februarie 2011)

PRET. PLESIER. PRESTASIE. PIONIER.

Die Pioniers het die afgelope week gewerskaf en was baie bedrywig met talle aktiwiteite. 

Aflosmarathon:
Donderdag was die jaarlikse aflosmarathon aan die orde van die dag. Die gemiddelde tyd van die wenspan by die seunsafdeling was 16,5 sekondes per 100m oor ‘n afstand van 30km.  Die dogterspanne het 20 km afgelê.  Die eerste netbalspan het met die louere weggestap, terwyl die eerste hokkiespan kort op hul hakke was.

Ons is baie trots op ons Pioniers wat Vrydag in die spesiale tradisie kon deel om die klok in die saal te lui as gevolg van puik prestasies.

Golf:
Combrinck Smit is uitgenooi om in ‘n Junior Uitnodigingspan vir Suid-Afrika teen Skotland te speel in ‘n golftoernooi. Ons wens Combrinck sterkte toe met sy reis en vertrou hy sal Pionier se naam hoog hou.

Jukskei:
Die Pionier familie is vreeslik trots op Jaco Vorster wat tot die SA o/19 seuns Jukskei-span verkies is wat in April na Namibië gaan toer .

Ruitersport:
Pionier ruiters het pragtig presteer.  Lieneke Jansen van Vuuren, Wilhelmina Foord, Annika Liebenberg en Melissa Steyn het gesamentlik  by die uitdunliga te Badplaas drie eerste plekke, drie tweede plekke, vier derde plekke en twee vierde plekke behaal.

Atletiek:
Bea-Marie Schutte is uitgenooi om in Johannesburg aan die Tuks Top-10 byeenkoms deel te neem, in beide haar items verbeter sy die rekord al behaal sy onderskeidelik ‘n vierde en vyfde plek. 

Saterdag 19 Februarie neem die atlete aan die USSASA byeenkoms te Ulundi deel . Pionier steek ‘n pragtige blou, wit en oranje veer in sy hoed met die volgende uitslae: Wimpie Steenkamp behaal ‘n eerste plek in skyfwerp en ‘n tweede plek in gewigstoot.  Christiaan Mostert het in die 110m hekkies ‘n eerste plek behaal en ‘n tweede plek in die 400m hekkies.  Boesie Ncube het ‘n tweede plek in driesprong behaal. Anri van Rooyen het twee eerste plekke behaal in onderskeidelik die 800m en 1500m.  Anneri Lens het twee eerste plekke in werpskyf en gewigstoot gekry.  Bea-Marie Schutte behaal drie eerste plekke in die 100m, 200m en  300m.  Anneke Smith hardloop soos die wind en behaal ‘n eerste plek in die 800m en ‘n tweede plek in die 1500m.  Briania Doust kom eerste in die hoogspring en tweede in die 100m.  Danell Nortje het in die 100m en 400m hekkies eersteplekke gekry en ‘n tweede plek in die 200m.  Marijke Potgieter ontvang ‘n tweedeplek vir verspring.  Simone Meyer het twee eerste plekke gehaal in werpskyf en gewigstoot. Sindi Ngobese  het ‘n eerste plek behaal  in verspring.

Koor:
Die koor het die afgelope naweek ‘n geslaagde koorkamp gehad en kon Maandagoggend in die saal wys wat hulle die naweek geleer het. Hoendervleis het op talle Pionier arms uitgeslaan.

Program van die week :
Die wintersport neem ‘n aanvang Saterdag, 26 Februarie wanneer die Pioniers vir Ligbron verwelkom.


(Skolenuus:  14 Februarie 2011)

PIONIERS SE VLAG WAPPER HOOG

 Pioniers het die afgelope week hulself uitstekend op alle terreine van hul taak gekwyt.  Die Pionier leerlinge het met groot opwinding die week se verrigtinge aangepak.

 ATLETIEK:

‘n Naelbyt vertoning speel af by die jaarlikse aflosbyeenkoms te Vryheid Hoërskool. Die Pioniers het met durf en waagmoed die groot berg aangepak.  Pionier behaal ‘n pragtige tweede plek by die geleentheid.  Dankie vir al die ondersteuners wat met elke aflos gesorg het dat die atlete tot by die wenpaal aangemoedig word.

 Op kort kennisgewing neem atlete Donderdag en Saterdag  aan die USSASA byeenkomste deel.  Die atlete het pragtig presteer. Pionier behaal 15 eersteplekke, ses tweedeplekke en een derdeplek.  Ons wens hulle sterkte toe met eerskomende Saterdag se byeenkoms by Ulundi.

 RUGBY:

Die geleentheid waarna die Pioniers so uitgesien het, breek uiteindelik aan.  Die o/15 span skop die interne 7’s toernooi  Vrydag af en was ongelukkig om in die semi-finaal 14-12 teen Greytown te verloor.  Die gedugte span wen Ferrum 14-7 in die uitspeelwedstryd om derde in die toernooi te eindig.

 @lantic 7’s:

Die vlagskip van Pionier, die Eerstespan, tree as wenners uit die stryd met die beslissende wedstryd teen Sarel Cilliers waar Pionier 33-14 stof in die teenstaanders  se oë geskop het.

 Riaan Nortjé word as die speler van die dag aangewys. Dis ‘n puik prestasie, geluk Riaan!

 Ons is baie trots op al die Pioniers se puik optrede, ‘n spesiale dank aan die inspirasieleiers se inisiatief om die seuns aan te moedig en die Pionier-gees op te vlam.

 SWEM:

Geluk aan al ons visse wat die naweek die Midmarmyl by Pietermaritzburg  geswem het.  

 OUD-PIONIER PRESTEERDER:

Pionier staan die afgelope week breë bors met die nuus van Lizahn Botha se uitmuntende prestasie aan die Universiteit van Stellenbosch.  Sy is aangewys as een van die top 32 presteerders in haar studiejaar.

 PROGRAM VAN DIE WEEK:

Die bloedbank kom Woensdag, 16 Februarie aan die beurt met pret en plesier wat op die leerlinge wag met die jaarlikse aflosmarathon wat Donderdag plaasvind.

(Skolenuus, 7 Februarie 2011)

Puik Pionier Prestasies

Oranje, wit en blou word met rede vir 35 jaar met trots gedra!  Die Pioniers het die afgelope week die naam goed gestand gedoen.

Swem:

Op Maandag, 31 Januarie, swem die Pioniers soos ware visse in die water.  Die interlaer swemgala het pragtige prestasies opgelewer en die swemseisoen lyk belowend.  Die Junior Victrix Ludorum was Ashley Reimers terwyl J.J van den Hoogen die Junior Victor Ludorum is.  Amoné Nel is aangewys as Victrix Ludorum en Jason Schwartz is die Victor Ludorum van 2011.  Ashley Reimers en Amoné Nel verbeter rekords tydens hierdie byeenkoms.

Die Pionier visse neem Vrydag aan ‘n Noord-KwaZulu Natal swemgala deel by Newcastle waar die spreekwoordelike vinne waarlik teen top spoed beweeg het. Die volgende leerlinge ontvang Noord-KwaZulu-Natal kleure: Zonike Marais, Emile Botes, Dylan Bosch, Jason Bosch, J.J van den Hoogen, Amoné Nel, Janine Erasmus, Ferdo Venter, Ashley Reimers, Biejanka Booysen, Jason Schwartz en Carla Meyer. 

Sterkte aan ons swemmers wat by Durban vir Natal kleure gaan meeding.

Atletiek:

Talent,  Deursettingsvermoë,  Gees - Hierdie is woorde waarmee Pionier Atletiek 2011 kan vereenselwig.

Gedurende die naweek het Simoné  Meyer aan ‘n byeenkoms by die Hoërskool Menlopark bygewoon en sommer vroeg die oggend die rekord verbeter in die dogters o/19 skyfwerp. Haar nuwe rekord daar is 47m. Later die middag het sy ook in die gewigstoot ‘n eerste plek behaal. Ai, ons is darem trots op hierdie mooi, beskeie atleet van ons!

Simoné is ook die eerste skoolleerling wat die trofeë by ons plaaslike atletiekbyeenkoms aan die wen atlete oorhandig het.  Die byeenkoms het Woensdag plaasgevind en nog ‘n besonderse gebeurtenis speel af. In die 200m seuns o/17 verbeter André Bester, ‘n 29 jaar oue rekord. Om die geleentheid nog méér spesiaal te maak, was die vorige rekordhouer, Hein Potgieter, ook teenwoordig! Geluk André, ons hoop jou rekord bly net so lank staan! André wen ook die Saambou Victor Ludorum trofeë vir Senior seuns en die Ben van der Merwe trofeë vir Senior Victrix Ludorum gaan aan Danell Nortje. Die Vryheid Nissan trofeë vir Victor en Victrix Ludorum vir Juniors, gaan aan Ruan Bester en Bea -Marie Schutte. Die atleet wat die hoogste punte op die ABSA-skaal behaal is Simoné Meyer vir skyfwerp.

Sportmanne en –vroue het die afgelope naweek wyd en suid Pionier se naam hoog gehou.  ‘n Vriendskaplike byeenkoms te Piet Retief, lewer hoogstaande prestasies. Bea-Marie Schutte ontvang die wisseltrofeë vir die beste baanatleet by dié pragtige byeenkoms.

Sewe leerlinge vertrek Vrydag na Newcastle met die hoop op Noord-KwaZulu-Natal kleure vir tennis.  Die volgende leerlinge word vir onderskeidelik A- of B-spanne verkies :  Anri van Rooyen, Carike Odendaal, Ryall Boshoff, Keagan Naude, JJ van der Hoogen en Anél van Heerden.

@lantic 7’s rugby

Kom kyk gerus na hierdie byeenkoms wat weer eens vanjaar op Pionier se sportveld aangebied word. Die o/15’s speel reeds Vrydagmiddag en die seniors begin 8:00 Saterdagoggend.

(Skolenuus 31 Januarie 2011)

PIONIER BEGIN ‘N NUWE BAADJIE AANTREK

 Pionier se sportkompleks word opgegradeer  en die opgradering van die netbal- en tennisbane is reeds aan die gang.

 RUITERSPORT

 Danell Theron het gedurende die Desembervakansie aan die SA-Kampioenskappe deelgeneem.  Sy was lid van die junior Mpumalangaspan. Sy behaal ‘n 3de plek in spandeelname asook ‘n 3de en 5de plek in individuele deelname.

 @LANTIC 7’S

 Nadat verlede jaar se @lantic 7’s toernooi so suksesvol was, het die eer ons weer vanjaar te beurt geval.  Vrydag en Saterdag 11 en 12 Februarie is dié dag om in groot getalle die toernooi te kom ondersteun.  Op Vrydag 11 Februarie kom die o/15’s aan die beurt en die Saterdag die eerste spanne.  Moenie die geleentheid misloop nie!  U kry dalk ‘n kans om ook op die TV te verskyn !

 SWEM : 4 + 1 GALA TE KIMBERLEY

 Die volgende swemmers het Noord-KwaZulu Natal (Klub) verteenwoordig en presteer as volg :

 Ashley Reimers 2de plek, JJ van der Hoogen twee 1ste plekke, Amoné Nel ‘n 2de en 3de plek en Emile Botes ‘n 4de en 8ste plek.

 Om so ver te ry om aan swem deel te neem, wys op die swemmers se toegewydheid.  Baie mooi julle !

 ATLETIEK

 By ‘n ASA-ligabyeenkoms in Durban het Marijke Potgieter ‘n 2de plek inverspring behaal, Christiaan Mostert ‘n 1ste plek in die 110m en 400m hekkies. 

 Soos gewoonlik lewer Simoné Meyer skitterende uitslae en kom sy 1ste in werpskyf en gewigstoot.

 As die jaar op hierdie hoë noot afskop, verwag ons groot dinge vir die jaar !

 By die ter perse gaan van hierdie berig is die swemgala (Maandag) en die interhuisatletiek (Woensdag) reeds afgehandel.  Gelukkig is die reënweer verby en was heerlike sonskyn aan die orde van die dag. 

(Skolenuus 24 Januarie 2011)

PIONIERS VOEG WAARDE TOE ...

'n Gepaste tema vir 'n jaar waar aktiwiteite al reeds teen 'n vinnige tempo plaasvind.  Vanaf die 13de Januarie woon ons leerlingleiers 'n kursus by  by die ATKV-oord by Drakensville.  Hulle kry die geleentheid om as 'n gedugte span saam te snoer en in dié gees die uitdagings van die nuwe jaar aan te pak.  ATKV en Extreme Life lewer weer 'n uiters professionele diens.  Mnr Harry Venter en ons rugbyafrigters woon 'n konferensie onder leiding van die Sharks by.

Ses nuwe personeellede, naamlik mnre Swanepoel, Schmidt en Schoeman, mev Moolman en mejj Wasserman en Potgieter sluit by ons aan.  Mevrou Lindie Moolman is as Opvoedkundige Sielkundige by die skool aangestel met die doel om uitvoering te gee aan die skool se erns om ons leerders te ondersteun en te begelei in vandag se woelige en veeleisende samelewing.  (Sien berigte en foto's op ons tuisblad)

Die nuwe graad 8 leerders besef sommer gou dat dit nie enige pikkewyn se vere sit om 'n ware Pionier te wees nie.  Onder die bekwame en waaksame leiding van ons leerlingbestuur word die waardes en tradisies van ons trotse skool goed ingeoefen.  Hulle eerste dag begin met 'n reeks toetse, net om hulle te wys akademie vier hoogty by Pionier.  Hierdie word darem in ewewig gebring met 'n heerlike boeresport en 'n sokkie waar hulle deur ons matrikulante touwys gemaak word in die fynere danspassies.

Donderdag begin ons akademiese program en die dag sluit af met 'n skoollandloop.  Huis Beyers wen die seunsafdeling, en Ixia en Minjonet deel die eerste plek in die dogtersafdeling.  Johan Nel behaal die eerste plek by die seuns, en Anri van Rooyen by die dogters.  Hierna volg ons tradisionele waatlemeonfees en 'n skoolsokkie.  'n Bedrywige week sluit af met 'n graad 8-kamp en 'n oefenkamp vir ons senior rugbyspelers.